Farm Attacker Crashes Victims Bakkie, Dies

0
4064

’n Vermeende plaasaanvaller is Maandagoggend dood toe die voertuig wat hy glo geroof het naby Sasolburg omgeslaan het.

Tommy Pienaar van Basopa Sekuriteit sê ’n bejaarde boer, Ronnie Brand, is Maandagoggend vroeg op sy plaas naby die Jim Fouché-vakansieoord buite Oranjeville aangeval.

Brand is glo baie erg aangerand en is in die hospitaal opgeneem.

Pienaar sê volgens inligting het die aanvallers met Brand se Isuzu-bakkie van die toneel gevlug. Pienaar se wagte was saam met die polisie en boere in die omgewing op die uitkyk vir Brand se bakkie en het inligting gekry dat die bakkie in Deneysville is.

Die bakkie is egter kort hierna naby Sasolburg gesien waar die bestuurder beheer oor dit verloor het en dit omgeslaan het.

Die bestuurder is op die toneel dood verklaar.

Pienaar sê volgens omstaanders was daar net een mens in die bakkie en daar word vermoed dat die oorledene sy makkers iewers afgelaai het voordat hy verder gery het.