Vermiste ma en dogter se liggame gevind

1146

Susanna “Soekie” Rademeyer en haar dogter, Melissa Jacobs. (Foto: Facebook)

Die liggaam van ’n ma (59) van Vishoek in die Wes-Kaap is Woensdag op die rotse by Chapmanspiek gevind enkele dae nadat haar volwasse dogter se liggaam op ’n strand, nie ver daarvandaan nie, uitgespoel het.

Kapt. FC van Wyk, van die polisie, sê Susanna “Soekie” Rademeyer se liggaam is Woensdag omstreeks 10:23 op die rotse gevind.

Die owerhede het sowat twee dae lank na Rademeyer gesoek nadat haar 26-jarige dogter, Melissa Jacobs, se liggaam Maandag by die Noordhoek-strand uitgespoel het.

Van Wyk sê ma én dogter se bure het hulle Maandag as vermis aangemeld.

Rademeyer en Jacobs is Vrydag vir die laaste keer gesien toe hulle saam met hul hond, ’n yorkshireterriër genaamd Shauna, in ’n taxi in Vishoek geklim het.

AO Jeremy Marten, ondersoekbeampte, het aan Maroela Media gesê die oorledene se besittings én die as van geliefdes is op die toneel gevind.

Daar sal nadoodse ondersoeke nou gedoen word om die oorsaak van die ma en dogter se dood te bepaal.

Geregtelike doodsondersoeke word gedoen.